Trane kan nie gepik word nie (nie eers deur slange nie)…

Een van my absoluut mees irriterende eienskappe is my puntenerigheid as dit kom by taalgebruik.  Ek weet dit van myself; ek erken dit; ek weet hoe irriterend dit my soms maak.  (Jammer!)  Ek het al voorheen hieroor geskryf, maar ek vind myself gereeld in situasies waar ek net moet keer om nie iemand te korrigeer nie.  Nie omdat ek meer as ander mense weet nie – glad nie – maar gewoonlik omdat ek so passievol is oor die korrekte gebruik van die korrekte woorde (die “korrektheid” ding is ook een van my meer frustrerende karaktertrekke) dat ek dit met mense wil deel.  Dis dan so interessant!  Meestal voel mense egter oor hierdie inligting soos ek oor wiskundige formules voel:  amper geïnteresseer op ‘n matige, maar apatiese, vlak van verveling.  Glad nie, dus.   

Toe ek op skool was het die seuntjies altyd gesê ek probeer “slim” klink deur “groot woorde” te gebruik.  Die waarheid is dat ek eintlik net ‘n vreeslike boekwurm was wat vir baie jare eerder maatjies kon gemaak het met die karakters in my boeke as die boelies by die skool. Ek was eintlik op gepik, om nou eerlik te wees, maar meer daaroor later.  Ek het selfs my eie sleutel vir die skool se biblioteek gehad, sodat ek pouses daar kon ontsnap.  Dis glad nie so hartseer as wat dit klink nie – dit het my ‘n sterk, selfstandige mens gemaak – en ek het al lankal hiermee vrede gemaak.  Ek en Tim giggel gereeld oor die feit dat ek biblioteekprefek was 🙂

Die direkte gevolg van die feit dat ek meer van Shakespeare as Sweet Valley gehou het, is ‘n woordeskat wat nie maklik in sms-taal verwoord kan word nie.  In die jare waarin my taalvaardighede ontwikkel het (voor en tydens my laerskooldae) is ek blootgestel aan ‘n wye verkeidenheid interessante, fassinerende woorde, baie keer met heelwat lettergrepe (en dus seker fisies “groot”).

En al is ek soms oor my woordeskat gespot – kinders kan immers wreed wees as iemand nie presies in hul boksies pas nie – sal ek nooit spyt wees nie.  Ek doen juis vandag ‘n werk wat my inspireer en interesseer as gevolg daarvan! 

In die tussen tyd hou ek die wag voor my mond mooi in toom as ek nie weet hoe iemand op die inligting gaan reageer nie.  Nog ‘n uitvloeisel van die geboelie op skool was dat ek vir lank myself eintlik op ‘n baie katterige wyse probeer verdedig het en ek het eers op universiteit minder van ‘n “teef” geword (so saam met die grootword en lewenservaring). Ek moes weer leer hoe om mense te vertrou met wie ek regtig is – ‘n effense wysneus.

As ek dus deesdae interessante foutjies op facebook sien, of by advertensieborde verbyloop wat “melkmert” adverteer, vind ek dit nogsteeds net so amusant (en deel selfs partykeer die giggels met vriendinne wat ek weet dit sal waardeer).  Ek hou wel eerder my rooi pen in toom sover as wat ek kan, om nie mense se gevoelens op ‘n persoonlike vlak seer te maak nie.

Deesdae probeer ek dit verwoord as raad, eerder as kritiek, want dit is wat ek regtig daarmee bedoel.  As ek byvoorbeeld sien dat iemand “‘n traan PIK”, wil ek regtig net help deur te verduidelik dat die korrekte woord eintlik “PINK” is.  Dit is vir my fassinerend om te gaan oplees oor die oorsprong van die uitdrukking en uit te vind dat dit afkomstig is van die Nederlandse term “met den pink eenen traan uit het oog wisschen,” dus om jou pinkie te gebruik om ‘n traan uit jou oog te vee.

En dis daai boekwurm in my wat saggies in my binneste giggel oor ‘n slang se konsternasie met ‘n druppende traan, want hoe versigtig gaan hy nie moet korrel om een raak te pik nie… 😉

 

 

8 thoughts on “Trane kan nie gepik word nie (nie eers deur slange nie)…

  1. Toemaar Juanli, ek was ook ‘n biblioteekprefek! Dit het net nie veel vir my taalgebruik gedoen nie, ek het maar net van die balkie gehou…

    • Haha, Koobs! Nee wat, jou taal word heel oordeelkundig gebruik, myns insiens 😉 Ditto oor die balkie, wel – ek het myne ook met trots gedra!

  2. Ek was toe nie ‘n biblioteekprefek nie!! Daarom gaan ek nie omgee as jy met ‘n rooi pen op my bladsy skryf nie! Ek wens maar net vir perfekte taal gebruik ( ek weet nie eers of dit een of twee woorde is nie) 😉

  3. Hey Juanli, jy het ‘n tikfoutjie gemaak, dit is veskeidenheid* en nie verkeidenheid nie.

    Hehehe I love this!
    Groete
    B Mathey

    • Hallo Barend! Dis lekker om jou hier te sien 🙂 Dankie vir jou regstelling – dit help! Die verdomde drukkersduiwel… As irony would have it, slaan hy toe sy kloutjies ook in jou kommentaar in 😉 Tipies! Hehe

Leave a reply to this post