My naam is Juanli. Lang “aaaah”, kort “ie”.

As daar nou een ding in die lewe is wat my irriteer (selfs meer as liedjies oor toeters op water scooters en mense wat die woord “soos” soos in ‘n honderd keer in een sin sê), dan is dit om die korrekte uitspraak van my naam oor en oor te moet korrigeer. Een keer is hanteerbaar. Selfs twee keer, op ‘n goeie dag. Maar teen die tyd dat ek “Jhaaaaaanlie” vir die derde keer moet herhaal asof ek walvis vlot praat, begin ek jou intelligensie te betwyfel.

Ek het wat mense al etlike kere in die verlede na verwys het as ‘n “moelike naam”. My liefste moeder, in een van haar mees kreatiewe oomblikke, het besluit om Johan en Lizette (my ouers) op hierdie spesifieke manier te kombineer, sonder om my Johanli te noem. Ek het dus geen probleem met die naam Johanli nie, moet my nie verkeerd verstaan nie… Dis net nie MY naam nie.

Van mense wat sopas my naam vir die eerste keer gehoor het, het ek al iets van alles gehoor: John-Lee, Jah-Li (?!), Johnny, Jeannie, Jolly (nee, regtig…) en selfs Sjaanlie. Ek kan ook blykbaar glad nie artikuleer as ek dit vir hulle sê nie, want ek kon sweer ek het dit dan nounet reg gesê?

Om te hoor hoe iemand dit uitspreek as hulle dit net op skrif gesien het, sorg gewoonlik vir die meeste giggels. Johanli is die mees voor die hand liggende opsie, maar ek het ook al ‘n paar Janelies, Jean(soos in denim)-lies en Johannelies gehoor.  Een van my goeie vriende dink immers dis hie-lê-rie-us om na my as Johannelie te verwys.  Ek hou van hom nes hy is, maar ek betaal hom terug met sakke vol sarkasme 🙂

Maar my absolute gunsteling moet sekerlik my hoërskool se skoolhoof wees. Vir die eerste twee of drie jaar van my hoërskoolloopbaan was ek net Juanli, maar om een of ander rede het dit een dag verander toe hy my skielik, voor almal in die skoolsaal, begin Julani noem het. Soos in Jabulani. En dit is wat my vriende my toe vir ‘n ruk daarna ook genoem het. Dit is waarskynlik so dat niemand anders wat saam met my op skool was dit noodwendig sal onthou nie – daar was regte probleme, soos puisies en snipperige meisies, wat hulle aandag geverg het – maar vir my was dit irriterend genoeg om permanent ‘n ereplekkie op my irritasielysie te verwerf. Flip!

En laat ek nie eers begin oor die mense wat my naam voor hulle geskryf sien staan (soos by die apteek), my dan vra hoe om dit uit te spreek (goeie idee), maar dan met my stry oor my uitspraak asof ek 1. verstandelik belemmer is, of 2. hoog is nie (minder goeie idee).

Ek moet erken dat ek nie hierdie gekarring met my naam heeltemal verstaan nie. Ek loop al 27 jaar hiermee rond, en ek het nog nooit gesukkel om dit uit te spreek nie! He he… Maar die belangrikste mense in my lewe het dit ook almal met die eerste probeerslag reggekry (soos my man en my beste vriendin) en dit mag dalk bygedra het tot my eerste, positiewe, instink om van hulle te hou 😉

Want hier kom nog ‘n brokkie eerlikheid: Ek moet ekstra hard probeer om veel van enigiemand te hou wat steeks aanhou om my verkeerdelik aan te spreek nadat ek hom/haar herhaaldelik probeer reghelp het. Ek gee graag vir my naastes byname en het ook geen probleem daarmee om een van hulle af te kry nie – Juans is ‘n ou gunsteling, en dit word verwelkom!  Maar as jy eintlik van beter moes weet (want jy is ouer as drie en geletterd en mag al in die publiek verskyn sonder ouertoesig) sukkel ek om ‘n verskoning daarvoor te kry.  Dit is vir my so goed as om vir jou ‘n beledigende bynaam uit te dink en dan aspris daarby te hou, selfs al is dit nie die naam wat jy na die wereld wil projekteer nie. Soos Poepneus. Ek ken verskeie Poepneuse…

Die interessante ding is dat jy derduisende voorbeelde van my naam sal kan vind as jy my google.  Dit is blykbaar ‘n baie polulêre naam vir meisies in Spaanse lande, en seuns in Asië.  Ek is egter nog nie seker hoe ek oor hierdie brokkie inligting voel nie 😉

Ek vermoed hierdie is een van daai “issues” wat ek gaan moet liasseer saam met my inherente haat vir aspersies en my nommer 9 voete – ek gaan nooit daarvan ontslae raak nie.  Ek weet dit!  Maar, in die tussen tyd, dagdroom ek graag oor ‘n prototipe wat fonetiese uitsprake saam met ‘n spraakborrel in ‘n hologram bo my kop kan laat verskyn – natuurlik met die druk van slegs een, geïrriteerde, knoppie.

9 thoughts on “My naam is Juanli. Lang “aaaah”, kort “ie”.

  1. Hallo Juanli- mag ek net noem dat hiérdie die eerste ‘blog’ is wat ek in my hele kosbare lewe gelees het. Ek weet nie of dit jou humor of skryftalent is nie… maar dit was verseker die tyd werd!! 😉 Groete G

  2. Ai, het ons nie almal sulke stories nie!! 🙂 Die kersie op my naamkoek is toe my St.3 Juffrou, nadat ek self my naam binne-in my boek geskryf het, soos die opdrag was, sy my naam verkeerdelik as Amanda bo-op die voorblad van my boek geskryf het. Toe ek haar daaroor konfronteer sê sy: “Ek dog jy het dit verkeerd gespel”. Seriously? As ek op 10-jarige ouderdom nog nie my naam kon reg spel nie, moes ek mos nie in haar gewone klas in ‘n gewone skool gewees het nie… ?? Daar het ek een van my eerste lewenswyshede geleer: Intelligensie kom nie noodwendig saam met ouderdom nie…

  3. Ek het ‘n baie eenvoudige (en tog unieke) naam, en ek is soms steeds verbaas as mense dit verkeerd uitspreek of vir my vra hoe dit gespel word. Wat verder vreemd is, is dat Engelssprekendes gewoonlik nie ‘n probleem het met die spelling of uitspraak nie. Dis die Afrikaanssprekendes wat dinge vir hulself moeilik maak. En met ‘n van soos Streicher verwag ek gewoonlik dat iemand dít verkeerd uitspreek of spel….

    • Jip, Leensie, jy het beslis ‘n “double whammy” – buitengewone naam EN uitheemse van? Jy is geskroef… My innige simpatie en meegevoel! 😉

Leave a reply to this post